Hoekom ek deel wil wees van Silverton CPA (Ronél 1)

Aangesien daar oneindig baie inbrake/insidente in ons klein ou straatjie was het ek ‘n straatvergadering in 2011 belê… Binne 2 dae is ek deur die nuutgestigde Silverton Buurtwag gekontak en hul het ons straatvergadering bygewoon… Ek het binne ‘n week, laat November daardie jaar as lid aangesluit…

Net soos toe TV nog ‘n nuutjie was, het ek saans na almal geluister en was erg opgewonde oor al die moontlikhede van hierdie “BUURT”wag… Die gemeenskapslede was op en wakker en ek het sommer gou tuis gevoel met al die “omgee”gebare… Daar was verskeie aksies, lief en leed, verskillende persoonlikhede, behoeftes en glo my, erge groeipyne… Een ding was egter vir my seker – waar dit saak gemaak het, het die lede saamgestaan, gehelp ens selfs fondse ingesamel… Ek het begin ervaar en sien wat die woord buurmanskap beteken…

Ek het hierdie “omgee” eerstehands ervaar op 1 Jan 2012 om 00H05 toe my laslappie bure, klappers onwettig begin skiet het. My teel boerboel reun het met kalmeermiddel en al bedwelmend vir die geweldige geraas probeer wegkruip. Met sy pote in alle windrigtings het ek hom probeer gerusstel, maar was egter nie sterk genoeg om hom in ‘n normale lêposisie te kry nie... Ek het moedeloos en radeloos om hulp op die radio gevra… Minute later was Lourens en Gardner by my huis en het die buurman aangespreek (selfs polisie ondersteuning is met hierdie aaklike attie ontvang)… In die proses het hul sommer skurminkels, wat toevallig by ‘n besigheid in my straat probeer inbreek het, ook uitgesort….

Dieselfde onbaatsigtige hulp is ervaar terwyl ek in 2013 ‘n jaar lank uitstedig en op ‘n kursus onder andere in die buiteland was. My dogter is ondersteun toe haar motor oorkant die golfbaan naby die ou koeksuster kruising gebreek het (buite ons buurtwag gebied)… Ek het die buurtwag om hulp genader en Fanie 4 het half ses die oggend bystand verleen. Hy het agter die AA trok aangery tot by ‘n werktuigkundige naby die Duitste skool en haar verdermeer ongevraagd veilig by die huis terug besorg …

Ek kan net nooit genoeg dankie sê aan hierdie gemeenskap vir hul vrywillige bydraes nie…. Julle was daar toe ek jul nodig gehad het - ek sal altyd deel wil wees van hierdie vriendskapskring…

Ronel 1

New forum topics

Recent blog posts