Moenie sommer ‘skelm’ se foto op WhatsApp plaas nie

Deur Desirée Rorke 07 Julie 2017

Moenie net foto’s van iemand wat jy dink ’n skelm in jou buurt is op WhatsApp plaas nie.

Indien jy ’n foto van iemand wat jy glo ’n misdadiger kan wees op sosiale media plaas, kan ’n boete, ’n jaar tronkstraf of selfs ’n siviele geding jou in die gesig staar.

Adv. Melville Cloete, ’n regskenner, het die waarskuwing by die Gene Louw-verkeerskollege in Brackenfell gegee.
Hy het met lede van die plaaslike buurtwagte gepraat en hulle oor die gevare van sosiale media en die plasing van mense se foto’s daarop in kennis gestel.

“Jy mag nie ’n foto van ’n persoon wat vermoedelik by ’n misdaad betrokke was, in ’n WhatsApp-boodskap of op Facebook plaas voordat die persoon nie in ’n hof verskyn het nie.

Ter illustrasie Foto: istock

“Die Polisiewet verbied dit. Dieselfde geld vir enigiemand wat moontlik ’n getuie in ’n strafsaak kan wees.
“Lede van ’n buurtwag neem dikwels foto’s van verdagtes op misdaadtonele, wat jy kan doen, maar die oomblik wanneer jy die foto aan iemand stuur of dit iewers op sosiale media plaas, word dit beskou as ’n vorm van publisering,” het hy gesê.

Al tyd wanneer daar ’n uitsondering op hierdie reël is, is wanneer die ondersoekbeampte toestemming gee dat dit gepubliseer kan word.

Benewens die Polisiewet bied art. 35 van die Grondwet elke burger die reg op ’n regverdige verhoor, het hy gesê.

“Die publikasie van ’n foto wat die vermeende misdadiger identifiseer, kan die verhoor onbillik beïnvloed en dit kan daartoe lei dat die verdagte vrygespreek word. Dieselfde geld as die oortreder in die openbaar geïdentifiseer word voordat ’n identifiseringsparade plaasgevind het,” het Cloete gesê.

Die publikasie van so ’n foto kan voort die verloop van die gereg in die wiele ry as ’n hangende ondersoek hierdeur belemmer word.

Dit kan ook daartoe lei dat die gemeenskap reg in eie hande wil neem.

By die publikasie van so ’n foto kan ’n persoon hom of haar ook skuldig maak aan laster.

Elkeen het die reg tot ’n goeie reputasie, en die persoon wat dit met lasterlike uitlatings beswadder, kan met die plasing van sulke foto’s aanspreeklik gehou word vir skadevergoeding in ’n siviele hof
Adv. Melville Cloete, regskenner

“Elkeen het die reg tot ’n goeie reputasie, en die persoon wat dit met lasterlike uitlatings beswadder, kan met die plasing van sulke foto’s aanspreeklik gehou word vir skadevergoeding in ’n siviele hof.”

Hy het bygevoeg dat talle sulke klagte in onlangse jare in siviele howe deur die eisers gewen is.

Laastens kan die publikasie van so ’n foto tot die onwettige inhegtenisneming en aanhouding van iemand lei.
In die saak tussen Thulani Mkwanazi en drie ander teen die minister van polisie, is die minister suksesvol gedagvaar vir die onwettige inhegtenisneming van die vier mans. Die vier is aangekeer nadat ’n WhatsApp-foto onder die polisie se aandag gebring is.

“In die WhatsApp-inskrywing is die mans as oortreders geïdentifiseer, wat daartoe gelei het dat die polisie hulle in hegtenis geneem het, net om twee dae later uit te vind dit was die verkeerde mans,” het Cloete gesê.
Die polisie het in hierdie geval nie die inligting ondersoek wat hulle van lede van die gemeenskap ontvang het nie. “Dit kan so maklik gebeur. Ons moet baie versigtig wees oor dit wat ons op sosialemedia-platforms soos WhatsApp deel.

“Indien jy iemand in jou buurt sien en jy het gronde om te glo dat hy of sy ’n misdadiger is, moenie net ’n foto neem en hom as die verdagte identifiseer nie. Kry eerder die feite rondom die saak en plaas dit.”

New forum topics

Recent blog posts